SECUNDA, MPUMALANGA. – Merenthia Cronjé was eens ’n aktiewe en besige ma, vrou en werker. Haar lewe het op 26 Desember 2020 onherroeplik verander toe sy en haar gesin in die Wes-Kaap gaan foefieslide het. Sy is sedert daardie dag ’n parapleeg, maar nou kan haar lewe verander met gevorderde tegnologie wat haar kan help loop.
Sy en haar man was daardie dag saam met haar ma en hulle drie seuntjies op ‘n uitstappie. “Met die Covid-inperkings kon ons nie strand toe gaan nie en het besluit op ziplining.”
Haar man het aanvanklik die stabiliteit van die drade bevraagteken, maar is vinnig gerusgestel en hulle het begin. “Ons het skaars begin gly vanaf die eerste platform na die volgende een toe my man skree ek moet my bene oplig. Intussen het sy bene gegly en gestamp teenaan die horisontale zipline-kabels.”
Dit het veroorsaak dat die horisontale kabels begin swaai het. ’n Kabel het haar man agter sy bene getref, een van hulle seuntjies wat aan haar vasgegespe was en vir haar agter op haar rug.
“Ek onthou die slag, maar ek het nie pyn ervaar nie. My seuntjie het begin huil en ek het hom gerusgestel om nie te huil nie en dat ek by hom was.” Haar woorde was skaars koud toe sy voel hoe haar kop swaar raak en sy haar bewussyn verloor.
Sy onthou grepe van haar eerste tyd in die hospitaal. “Ek onthou ’n fisio-sessie in die hospitaal en waar ’n chirurg aan my die nuus breek dat ek vir die res van my lewe verlam is.”

Haar lewe het in elke denkbare aspek verander – van hoe sy kos maak, skottelgoed was – sy moes selfs haar badkamerroetine aanpas. Sy het beheer van haar blaas en maag verloor en is nou permanent afhanklik van ’n kateter. “Ek kan nie net aantrek wat ek altyd sou nie – ek moet altyd wonder of mense my doek gaan sien.”
Drie maande na die ongeluk moes sy permanent pynmedikasie begin gebruik. “Ek kry steekpyne wat voel of iemand my skok dat ek op my tande kners. Die pyn laat my huil. Dit voel of ek pynlik en stadig doodgaan. My seuns weet al dat as ek my oë toeknyp en op my tande kners hulle moet wag voor hulle verder gesels.”
Merenthia-hulle se hele huis moes aangepas word sodat sy meer vrylik kon beweeg. Sy is dankbaar om steeds werk toe te kan gaan en ook vir diegene wat haar help met vervoer. Verder moes sy ’n huishulp vir drie maal ’n week aanstel om te help met wasgoed. Die res van die huistake doen sy self.
In 2023 het sy begin oplees oor stamselbehandeling. Haar navorsing het haar gelei na ’n instansie wat haar kon help. “Ek het ’n afspraak gekry en dit was skaars 15 min en ek het my dosis stamselle ontvang.”
Die hoop is dat die stamselle sal heg in die spasie waar haar senuwees afgesny is. “Die dokter het my aangeraai om met fisio te begin sodat ek my spiere kan begin oefen.”
Sy het fisioterapeute in Trichardt gevind wat haar kon akkommodeer. Dit is daar waar sy vir die eerste keer in amper drie jaar met hulp kon staan.
“Ek besoek die praktyk so gereeld as wat dit finansieel moontlik is. My spiere is besig om sterker te word, tot so ’n mate dat ek my bene begin beweeg.”
Sy probeer nou geld insamel vir plastiek beenstutte (callipers) waarmee sy kan leer loop. Dit ondersteun haar knieë sodat sy nie inmekaar tuimel nie. “Wanneer ek dit onder die knie het, is die volgende missie ‘robotic walking’. Dit is ’n baie duur metode, maar vir my dan die volgende logiese stap … letterlik.”
Aan die begin het sy leeg gevoel. “Ek’t gevoel soos ’n hol dop. Verlore. Ek het besluit dat ek dit dag vir dag gaan vat. Om te ver vooruit te dink, maak haar depressief en angstig,” vertel sy.
Om moed te hou, het sy al van vroeg af geleer. Haar broer is in 2015 oorlede nadat hy vir ’n jaar lank om sy lewe geveg het na ’n ongeluk. Haar pa is in 2020 oorlede weens ’n beroerte kort na sy aftrede. “Al die hartseer wat ons gesin deurgegaan het, het my laat besef dat die lewe regtig kort is. Niemand van ons is gevrywaar van seer nie, maak nie saak wie jy is of hoe jonk jy is nie.”
Haar droom is om weer te loop en dit is haar sterk geloof wat haar aanspoor. “Ek gaan beslis weer loop, al is dit met hulp. Ek gaan weer met my man dans, ek gaan weer langs die rugbyveld staan en my seuns aanspoor en ek gaan self my seuns kan skool toe vat en werk toe ry.”
Haar advies aan ander parapleë is om nie in hulle omstandighede en doktersverslae vas te kyk nie. “Vat God saam met jou, moenie Hom wegskuif oor jou omstandighede nie.”
Merenthia het besluit om ’n Back a buddy-veldtog te begin om te help met haar droom om weer eendag te loop. Die fondse sal vir haar fisioterapie en later vir haar beenstutte aangewend word.
Indien jy ’n bydrae wil lewer om haar droom te bewaarheid, besoek haar Back a buddy-blad.





