NOORDWES. – ’n Leerling van Hoërskool Ikatisong is dood nadat hy Dinsdag in Letlhabile met ‘n skerp voorwerp gesteek is. Volgens die polisie was die slagoffer 15 jaar oud, terwyl die Noordwes-departement van onderwys hom as ’n 16-jarige gr. 10-leerling beskryf.
Sers. Kelebogile Morake, polisiewoordvoerder, sê die Letlhabile-polisie het Dinsdagoggend ’n klagte van die plaaslike kliniek ontvang, nadat die leerling met steekwonde daarheen geneem is. Hy is met sy aankoms weens ‘n steekwond aan sy nek deur mediese personeel dood verklaar. Hy is deur sy ma geïdentifiseer.
Volgens voorlopige inligting was die leerling glo in ’n konfrontasie met ’n 19-jarige verdagte wat aan hom bekend was. Die omstandighede van die konfrontasie word steeds ondersoek. Die 19-jarige verdagte is later opgespoor en in hegtenis geneem. Hy het glo ook beserings tydens die voorval opgedoen en ontvang tans mediese behandeling. Hy sal na verwagting Donderdag op ‘n aanklag van moord in die Brits-landdroshof verskyn.
Mercy Mokgatle, woordvoerder van die Noordwes-onderwysdepartement, sê psigomaatskaplike ondersteuning sal aan leerlinge, opvoeders en die families wat deur die tragedie geraak is, gebied word. Leerlinge word gemaan om geskille vreedsaam op te los en hulp van ouers, opvoeders of die skoolbestuur te soek wanneer hulle met konflik of dreigemente te doen kry.