[t4b-ticker]

Leeu-slagoffer geïdentifiseer

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

VRYSTAAT. – Mataka Jere (43) is Sondag deur Sameiro, ‘n leeuwyfie, op Bagamoya Wildlife Estate, ‘n plaas in die Glen-distrik, aangeval en verskeur. Jere het aan sy beserings beswyk.

Kapt. Loraine Earle sê volgens aanvanklike inligting, soos deur Nuusflits berig, het die DBV die leeu van kant gemaak. Dit is egter nie die geval nie.

“In ‘n poging om die slagoffer te red, is die leeuwyfie beseer. Sy is sedeer voordat een van die plaaswerkers haar uitgesit het.”

Die ondersoek duur voort.

Nuusflits het kommentaar van Bagamoya Wildlife Estate gevra.

Bloemfontein-DBV sê hulle het ‘n klagte van ‘n tier wat sukkel om te loop en in aanhouding is, ontvang.

Thea Smit, waarnemende voorsitter van Bloemfontein-DBV, sê ‘n lasbrief moes verkry word, aangesien toegang tot die perseel eers aan hulle geweier is. Die tier is in ‘n leeukamp gekry en is Sondagoggend hervestig. Die nodige assesserings sal van die tier en sy gesondheid gedoen word.

Smit sê met die fokus op die tier is gesien die perseel is vuil. Kort na die hervestiging is nuus ontvang van ‘n werknemer wat op dieselfde perseel deur ‘n leeuwyfie doodgemaak is. Die DBV is terug na die perseel waar die liggaam van die oorledene steeds was. ‘n Familielid van die bestuur van die perseel het, in ‘n poging om die oorledene te red, die leeuwyfie twee keer met ‘n .22 geskiet. Die leeuwyfie het twee skietwonde gehad en is onder DESTEA-toesig deur die bestuur van die fasiliteit met ‘n 308-jaggeweer, van kant gemaak.

Die DBV is ingelig die oorledene het ‘n bestuurskamp skoongemaak toe die leeuwyfie deur ‘n gat in die draad, langs die kamp waarin sy was, toegang verkry het. Smit het namens die DBV medelye met die familie van die oorledene uitgespreek.

Volgens Smit is Begbie Hunter gedurende April 2014 by dieselfde fasiliteit deur ‘n leeu aangeval.

“Ons kan nie genoeg beklemtoon hoe wreed teel-gevangenskapfasiliteite is en die mate van lyding van wild wat van ‘n natuurlike wilde lewe gestroop is nie.”

Nuusflits het voorheen soos volg berig:

‘n Werker (43) is Sondag op ‘n wildsplaas in Glen, waar hy besig was om ‘n draadheining te herstel en ‘n hek op te rig, deur ‘n leeuwyfie verskeur.

Kapt. Lorraine Earle sê die oorledene en sy toesighouer was omstreeks 12:20 klaar met die oprigting van die hek by ‘n leeukamp. Hy het van sy kamer reguit na die leeukamp gegaan. Sy toesighouer het vir hom geskree om uit te gaan, omdat daar ‘n leeuwyfie in die kamp was.

Earle sê die waarskuwing was egter te laat. Een van vier leeus het die werker aangeval en hy het gesterf.

Die slagoffer se liggaam, met verskeie bytmerke, is van die leeuwyfie weggehaal. Die leeu is van kant gemaak.

Glen-polisie is na die toneel ontbied en ‘n geregtelike doodsondersoek is geopen.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief