NOORD-KAAP. – John Ivan Francious Mouton (50) is deur die Upington-hooggeregshof lewenslank tronk toe gestuur ná ’n gewelddadige padwoede-voorval wat tot twee moorde en vier sake van poging tot moord gelei het.
Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder, sê die saak spruit uit ’n motorbotsing wat op 17 Desember 2022 in die vroeë oggendure plaasgevind het. Ná die ongeluk het die veroordeelde glo ’n vuurwapen uitgehaal en Joshua Rock, ‘n betrokke voertuigbestuurder daarmee gedreig. Volgens die NVG het die situasie vinnig geëskaleer toe Shadrack Dube, ’n vriend van Rock, die slagoffer probeer kalmeer het.
Mouton het op hulle geskiet, waarna Rock die toneel verlaat en Dube agtergebly het. Kort daarna het Boiphelo Khumalo, die eienaar van die voertuig wat Rock bestuur het, op die toneel aangekom. Nog mense het saam met hom daar aangekom, ook Ranchia Nokayi, ‘n afgetrede polisiebeampte wat die polisie geskakel het. Terwyl sy nog op die telefoon was, het die beskuldigde weer begin skiet. Dube en Khumalo is noodlottig getref, terwyl vier ander persone oorleef het.
Die hof het Mouton se verweer van selfverdediging verwerp en bevind dat hy doelbewus ongewapende mense aangeval het. Hy is gevolglik tot twee lewenslange vonnisse vir moord en vier 10-jaar vonnisse vir poging tot moord gevonnis, wat gelyktydig uitgedien sal word.
Die NVG sê die saak beklemtoon die gevaarlike gevolge van padwoede en die belangrikheid daarvan dat vuurwapen-eienaars verantwoordelik optree en nie die reg in eie hande neem nie.





