GAUTENG. – Twee verdagtes van ’n sindikaat wat slagoffers deur Facebook Marketplace gelok en daarna beroof het, is tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis.
Kapt. Tintswalo Sibeko, polisiewoordvoerder, sê die Ga-Rankuwa-hooggeregshof het Dinsdag vir Sifiso Maseko (31) en Thapelo Ngwenya (33) tot onderskeidelik lewenslange gevangenisstraf plus 60 en 75 jaar gevonnis. Kabelo Joseph Ngwenya (33) is onskuldig bevind, terwyl Ntsindiso Alfred Mtunzini (34) tot 15 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis is. Die vonnisse spruit uit vyf sake wat tussen November 2021 en Maart 2022 by Loate-polisiestasie aangemeld is.
Die groep het volgens die ondersoek produkte soos roomysmasjiene, DJ-klankstelsels en voertuie teen aantreklike pryse op Facebook Marketplace geadverteer en slagoffers daarna na Winterveld gelok. Een slagoffer is in 2021 tydens ’n beweerde roofpoging drie keer in die maag geskiet en het op pad na die hospitaal aan sy beserings beswyk. Beamptes van die Gautengse provinsiale georganiseerde misdaad-eenheid het op 12 Maart 2022 vier verdagtes in Winterveld in hegtenis geneem. Vyf slagoffers se sake is later met die sindikaat verbind.
Genl.maj. Fred Kekana, waarnemende provinsiale kommissaris, het die uitspraak verwelkom en die ondersoekspan geloof. Hy het die publiek gemaan om versigtig te wees wanneer hulle op aanlyn advertensies reageer en om verkopers se identiteit te verifieer. Transaksies moet eerder op veilige, openbare plekke plaasvind.
Lees ook meer hier onder: