GAUTENG. – Jorge Tivane (21), ‘n Mosambiekse burger, is twee keer lewenslank tronkstraf opgelê nadat hy skuldig bevind is vir die verkragting van en moord op ‘n 11-jarige meisie van Kliptown.
Magaboke Mohlatlole, NVG-woordvoerder, sê die beskuldigde is geïdentifiseer nadat gemeenskapslede hom uitgewys het as die laaste persoon wat saam met die meisie gesien is voordat haar liggaam later in ’n veld ontdek is. Die hof het gehoor dat die voorval in Desember 2022 plaasgevind het.
Ondersoekers het bevind dat die meisie saam met Tivane na ’n afgeleë gebied geloop het waar sy later dood aangetref is. Forensiese bewyse, insluitend DNA, het hom direk aan die misdaad verbind. Hy het later skuld beken op beide aanklagte en erken dat hy die meisie gelok, verkrag en vermoor het. Die meisie was ’n kwesbare minderjarige met geestelike uitdagings wat met lekkergoed gelok en met ‘n kledingstuk verwurg is.
Die staat het tydens vonnisoplegging die erns van die misdaad beklemtoon, veral omdat die slagoffer ’n kwesbare minderjarige was. Die hof het uiteindelik twee keer lewenslange tronkstraf opgelê – een vir moord en een vir verkragting. Die NVG sê die uitkoms bevestig hul verbintenis om geregtigheid vir slagoffers van geweld, veral kinders en ander kwesbare groepe, te verseker.





