MELKBOSSTRAND, WES-KAAP. – Die liggame van Pierre Lotter (23) en twee van sy worshonde is Sondagoggend op Melkbosstrand gevind.
Individue naby aan die familie het dit op sosiale media bevestig. Lotter en sy oom (47) het Dinsdag op ’n rotseiland naby Bloubergstrand gaan visvang toe hoogwater hulle vermoedelik ingehok het toe hulle na die strand probeer swem het.
Sy oom is op die toneel dood verklaar, maar hy en sy drie worshonde is deur die see meegesleur. Lotter en sy oom is albei oorspronklik van Kathu. Lotter se ouers het volgens inligting einde April na die Wes-Kaap verhuis.
Die polisie het bevestig die liggaam van ’n jong man het Sondag op Melkbosstrand uitgespoel. Hy is op die toneel deur paramedici dood verklaar.
’n Nadoodse ondersoek sal op sy liggaam uitgevoer word om die oorsaak van sy dood te bepaal. ’n Geregtelike doodsondersoek is geopen.
Volgens ’n familielid is die liggaam van een van die worshonde reeds Vrydag gevind.
’n Familievriend beskryf Lotter as iemand wat ’n mooi hart gehad het. Een van sy hoërskooljuffrouens, Wilma Fourie, sê hy het altyd ’n glimlag op sy gesig gehad, daarvan gehou om grappies te maak en was ’n optimis.
Bronne: SAPD, NSRI





