KWAZULU-NATAL. – ‘n Ligte vliegtuig het Dinsdag ‘n suksesvolle noodlanding op Tinley Manorstrand gemaak. Geen beserings is opgedoen nie.
Samantha Meyrick van IPSS Medical Rescue sê die diens het ‘n kennisgewing van die Aeronautical Rescue Coordination Centre (ARCC) ontvang oor ‘n ligte vliegtuig wat nood weens enjinprobleme verklaar het en ‘n noodlanding gaan maak. IPSS Medical Rescue, KDM Lifeguards, Kwadukuza-brandweer en Netcare911 het onmiddellik gereageer en was kort nadat die noodlanding uitgevoer is op die toneel.
“Gelukkig het die vlieëniers fantastiese werk gedoen, ongedeerd weggestap, met geen oënskynlike strukturele skade aan hul vliegtuig nie. Die vinnige aankoms van verskeie nooddienste getuig egter van hoe doeltreffend die proses kan wees wanneer ‘n vliegtuig ‘n noodtoestand verklaar. As dit ‘n slegter uitkoms was, sou hulp vinnig opgedaag het.”