LIMPOPO. – Vyf verdagtes is kort ná ‘n plaasaanval in die Northam-gebied deur ‘n gesamentlike polisietaakspan van Limpopo en Noordwes vasgetrek. Sewe gesinslede is Donderdagoggend, omstreeks 01:20, terwyl hulle geslaap het deur die vermomde verdagtes oorval.
Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring die gesin is van onder meer buitelandse geld, selfone, dieselwaterpompe en voertuigbatterye beroof. Deur vinnige speurwerk en die samewerking tussen twee provinsies wat aan mekaar grens, is die verdagte wegkomvoertuig geïdentifiseer. Dit het gelei tot die inhegtenisneming van die vyf verdagtes in die Brits-polisiëringsgebied, waar die gesteelde goedere herwin is.
Die verdagtes sal vandag (Vrydag) op ‘n aanklag van die besit van vermoedelik gesteelde eiendom in die Brits-landdroshof in Noordwes voorkom. Hulle sal daarna na die Northam-landdroshof in Limpopo oorgeplaas word om op die aanklag van huisroof tereg te staan.
Lt.genl. Thembi Hadebe, provinsiale polisiekommissaris van Limpopo, het die samewerking tussen die provinsies geloof. “Huisrooftogte in ons provinsie is ’n ernstige bekommernis. Hierdie inhegtenisnemings wys dat ons spanne niks sal nalaat om gemeenskappe te beskerm en misdadigers voor die gereg te bring nie,” het sy gesê.





