WES-KAAP. – SANParke se brandbestuurspan is steeds besig om ’n veldbrand bo Kloofnekhoek en langs Tafelbergweg te bestry, nadat grondspanne die hele nag gespook het om die brand onder beheer te kry.
Volgens SANParke het die brand op 2 Augustus uitgebreek, waarna grondbrandbestrydingspanne, die Stad Kaapstad se brand-en-reddingsdiens en drie spanne van die Volunteer Wildfire Services na die gebied ontplooi is.
As voorsorgmaatreël is besoekers by die onderste stasie van die Tafelberg-kabelkar ontruim. SANParke-veldwagters en verkeersbeamptes is ook ontplooi om met die veilige ontruiming van besoekers te help en verkeer te bestuur. Die kontoerwandelpad en omliggende staproetes tussen Kloofnek en die kabelkar se onderste stasie is tot verdere kennisgewing gesluit. Die publiek word versoek om die gebied te vermy en gehoor te gee aan alle instruksies van beamptes.
Volgens SANParke het grondspanne gedurende die nag voortgegaan om die brand te monitor en geïsoleerde warm kolle te blus. Hoewel ligter winde oornag gunstige toestande geskep het, word moontlike opvlammings verwag namate temperature vandag styg, veral in rotsagtige gebiede en gebiede met steil kranse wat moeilik vir grondspanne bereikbaar is.
Kishugu Aviation, wat deur SANParke gekontrakteer is, het vanoggend om 08:00 twee Single Engine Air Tanker-vliegtuie van AG Aviation ontplooi. Die vliegtuie word gebruik om warm kolle wat deur termiese beeldvorming geïdentifiseer is, af te koel en die risiko van herontbranding te verminder. Ongeveer 43 grondpersoneellede en drie watertenkwaens is tans by die brandbestrydingsoperasie betrokke. Bykomende helikopters kan ingespan word indien omstandighede dit vereis. Die oorsaak van die brand is steeds onbekend. SANParke monitor die situasie en sal nuwe inligting beskikbaar maak soos nodig.





