GAUTENG. – Matome Chiloane, die LUR vir onderwys in Gauteng, het kommer uitgespreek oor aantygings van lyfstraf teen die skoolhoof van Hoërskool Madisong in Hammanskraal.
Steve Mabona, woordvoerder vir die departement, sê volgens inligting het leerlinge met bewerings van fisieke aanranding deur die skoolhoof na vore gekom. ‘n Leerling het beweer dat hy in Februarie 2025 aangerand is. ’n Ander leerling het gesê haar hand pyn nadat sy glo gestraf is omdat sy nie die inhaalprogram tydens die vakansie bygewoon het nie.
Mabona bevestig dat ’n interne ondersoek van stapel gestuur is om die omstandighede rondom die aantygings te bepaal. Ouers is ook aangeraai om ’n saak by die polisie te maak. Die skoolhoof sal intussen by die distrikkantoor hangende die uitslag van die ondersoek, aanmeld.
“Ons is uiters ontsteld oor hierdie berigte en bly vasbeslote daartoe verbind om te verseker dat skole veilige ruimtes vir alle leerlinge is. Ons herinner alle personeel daaraan dat lyfstraf streng deur die wet verbied word, en enige oortreding sal met vinnige en beslissende optrede hanteer word,” het Chiloane gesê.
Mabona sê die departement het deurlopende bewusmakingsveldtogte om die wetlike verbod op lyfstraf by skole te versterk. Enige onderwyser wat van aanranding beskuldig word, word aan ’n formele dissiplinêre proses onderwerp. Die onderwysdepartement se ondersteuningspanne is beskikbaar gestel om emosionele en psigososiale ondersteuning aan betrokke leerlinge en hulle families te bied.
Leerlinge en gemeenskapslede word aangemoedig om enige gevalle van “mishandeling” by hul naaste distrikkantoor aan te meld. Die departement verseker dat alle gevalle deeglik ondersoek sal word, selfs al is dit anoniem.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





