LIMPOPO. – Stephina Sefekwane Cuene (48) het Maandag en Dinsdag in die Polokwane-landdroshof verskyn nadat sy glo Vrydag haar rolstoelgebonde seun (18) se kop afgesny het.
Mashudu Malabi-Dzhangi, woordvoerder vir die NVG, sê Cuene bly in aanhouding totdat die moordsaak weer op 16 Mei vir ‘n formele borgaansoek voorkom.
Nuusflits het voorheen soos volg berig:
‘n Rolstoelgebonde seun (18) se liggaam is Vrydagmiddag omstreeks 13:00 in sy rolstoel aangetref, met sy kop op die grond. Die liggaam en kop is langs ‘n taverne in die Leshikishiki-woonbuurt in die Lebowakgomo-polisiëringsarea gevind.
Brig. Hlulani Mashaba sê daar was geen persoon op die misdaadtoneel nie. Die oorledene se ma is opgespoor en sy is deur die ondersoek positief met die grumoord verbind. Die mes wat vermoedelik gebruik is om die seun se kop mee af te sny, is op die misdaadtoneel gevind.
‘n Moordsaak is geregistreer. Die motief vir die moord is onbekend, maar sal met die ondersoek vasgestel word.
Die ma sal binnekort in die Thabamoopo-landdroshof verskyn.





