OOS-KAAP. – Hailie-Jade Coboza (18), ‘n matriekleerling van Collegiate Girls’ High School in Gqeberha, en haar ma (40) is Donderdag met veelvuldige skietwonde dood in hulle huis in Walmer aangetref. Vier verdagtes verskyn vandag op aanklagte in die Gqeberha-landdroshof.
Die skool het die afsterwe van Coboza op hulle sosiale media bekendgemaak, waarna boodskappe van medelye instroom.
Kapt. Sandra Janse van Rensburg sê die Walmer-polisie het omstreeks 20:30 op ‘n klag van ‘n dubbele moord in Sakhasonke-dorp, in die Walmer-lokasie, reageer en die vroue dood aangetref. Tydens verwerking van die misdaadtoneel is die Nelson Mandelabaai-distrikspeurders se intervensietaakspan en Operasie Bamba-polisielede vir bystand ontbied.
Inligting wat op die toneel ingewin is, het tot besoeke aan openbare hospitale in Gqeberha gelei. By Dora Nginza-hospitaal is ’n vermeende verdagte met ’n besering aan sy been gevind. Die lede kon hom met die dubbele moord verbind en hy is in hegtenis geneem.
Soos wat die ondersoek gevorder het, is nog drie verdagtes by ‘n huis in Greenshields Park in hegtenis geneem en daar is op ‘n Mossberg 12 boor-haelgeweer en ‘n boks met 9 mm-ammunisie beslag gelê.
Die motief vir die moorde word ondersoek. Die verdagtes tussen 28 en 46 jaar oud verskyn op aanklagte van moord, sameswering tot moord en die besit van ‘n onwettige vuurwapen en ammunisie in die hof.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





