WES-KAAP. – Marietha Rheeder se lewe het in minder as ’n maand onherroeplik verander, nadat sy eers vir Liam Claassen (12), haar enigste kind, tydens ‘n diabetiese koma afgestaan het en kort daarna self met ’n aggressiewe kanker gediagnoseer is. Volgens mense na aan haar hou sy vas aan die belofte wat sy aan haar seun gemaak het, dat sy sal aanhou veg.
Nanine Bekker sê terwyl Marietha nog met die verlies van haar seun gedurende September 2024 geworstel het, moes sy die skokkende nuus ontvang dat sy aan pleomorfiese sarkoom in haar linkerbeen ly, ’n seldsame kanker wat reeds na haar longe en limfkliere versprei het. Sy het reeds met behandeling begin, maar is tans te siek om te werk en het geen mediese fonds of inkomste nie. ’n Dringende MRI-skandering is nodig om te bepaal wat die volgende stap in haar behandeling gaan wees, wat moontlik lewensreddende sorg of selfs amputasie kan insluit. Die koste van die skandering kan tienduisende rande beloop. Benewens mediese uitgawes het sy ook ondersteuning nodig vir medikasie, moontlike operasies, daaglikse lewensonkoste en emosionele berading.
Nuusflits het voorheen berig Laerskool Bertie Barnard op Stilbaai het Liam se afsterwe op hulle Facebook-blad aangekondig met nog boodskappe op die Stilbaai NG Gemeente se Facebook-blad. ‘n Boodskap het gelui: “Bid asb vir Liam. Hy is weer opgeneem. Hulle sukkel om sy suiker af te kry. Sukkel nog om hom stabiel te kry, suiker wil nie af nie” Marietha Rheeder
Sedert ‘n skarebefondsingsprofiel deur Bekker begin is, is daar reeds meer as R95 000 van die beoogde R100 000 vir Marietha ingesamel, sodat sy die nodige mediese toetse en behandeling kan begin.
Lees meer op die BackaBudy profiel.





