NOORDWES. – ’n Verdagte vrou (47) het op aanklagte van poging tot moord en kindermishandeling van haar 14-jarige dogter in die Molopo-landdroshof verskyn, waar sy borg geweier is.
Sivenathi Gunya, woordvoerder vir die NVG, sê die identiteit van die beskuldigde van Majemantsho, naby Mahikeng, word weerhou om die minderjarige slagoffer se identiteit te beskerm. Volgens rapportering aan die polisie het die ma glo op 22 April, in die vroeë oggendure, by die huis aangekom en haar dogter gevra om saam met haar na ’n buitekamer te gaan. Daar het sy na bewering suur in die kind se gesig gegooi. Die hof het gehoor dat die ma ná die voorval die kind na ’n plaaslike hospitaal geneem het. Sy is daarna in hegtenis geneem en is sedertdien in aanhouding.
Tydens haar borgtogaansoek het die beskuldigde in ’n beëdigde verklaring aangevoer dat sy geen vorige veroordelings het nie, geen hangende lasbriewe teen haar het nie, en nie met die klaer sal inmeng nie. Die staat het egter borgtog teengestaan en ’n beëdigde verklaring van die ondersoekbeampte voorgelê waarin vorige voorvalle uiteengesit is waartydens die beskuldigde glo die slagoffer se lewe bedreig het. Die aanklaer het aangevoer dat die vrylating van die beskuldigde die veiligheid van die kind in gevaar sal stel, aangesien sy die biologiese ma en die beweerde oortreder is. Daar is ook op die trauma en vrees wat die kind tydens die voorval ervaar het klem gelê en die hof is versoek om die slagoffer se beskerming voorop te stel.
Die hof het met die staat saamgestem en beslis dat die beskuldigde nie ’n geskikte kandidaat vir borgtog is nie. Borgtog is geweier, waarna die saak vir verdere ondersoek tot 1 Julie uitgestel is.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]

