NOORD-KAAP. – Die Demokratiese Alliansie (DA) in die Noord-Kaap doen ‘n beroep op die LUR vir maatskaplike ontwikkeling, Martha Bartlett, om die Noord-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling daarin te lei om die maatskaplike veiligheidsnet vir kwesbare groepe wyer te span in hierdie krisistyd.
Kinderbeskermingsweek
Dr Isak Fritz, LPW : DA Noord-Kaapse provinsiale woordvoerder vir maatskaplike ontwikkeling, sê: “Die aanvang van kinderbeskermingsweek herinner ons aan ons plig om na die behoeftes van kinders om te sien. Om kinders van uitbuiting, mishandeling, en honger te beskerm is een van die belangrikste pligte van openbare verteenwoordigers.”
Nodige rolspelers
So ons doen eerstens ‘n beroep op die LUR om met die nodige rolspelers in gesprek te tree sodat alle SASSA-kantore in die provinsie met verlengde kantoorure kan heropen, sodat dit makliker is vir ouers en versorgers om die nodige bystand van die regering te ontvang. Om kantore te hê wat behoorlik toegerus is om gemeenskappe te help, is veral belangrik vir ‘n provinsie soos die Noord-Kaap. Probleme met konnektiwiteit of internetverbindings maak dit dikwels moeilik vir gemeenskappe in die verarmde landelike areas om elektroniese bronne te benut.
Pandemie versprei
Ons kan die bewys hiervan sien in die trae uitrol van die R350-toelaag in die provinsie. Voordat die pandemie na ons provinsie versprei het, was die provinsiale werkloosheidsyfer reeds 39% en baie ouers het gesukkel om genoeg brood op die tafel te kan sit vir hul families. Dit is ondenkbaar dat gemeenskappe nie hierdie ekstra hulp nodig het nie en daarom wys die trae aansoekprosesse vir ons dat gemeenskappe nie toegang het tot die nodige hulp nie.
Afstande verminder
Ons doen dus ook ‘n beroep op die departement om mobiele eenhede te gebruik. Ons moet die afstande verminder wat mense moet aflê, veral in hierdie tyd wat dit belangrik is om virusverspreiding te voorkom.
Heroorweging
Ons versoek ook die departement om die programme te heroorweeg wat tans aangebied word deur die elf skuilings vir 65 hawelose persone. ‘n Onlangse verslag van die departement wys daarop dat die skuilings, wat deur 42 vrywilligers beman word, verskillende programme aanbied wat mediese hulp en selfversorging tot ontspanningsprogramme en geestelike bystand betrek. Dit is werklik ‘n riem onder die hart om te sien dat hierdie programme daarop gemik is om die menswaardigheid van hawelose mense te beskerm, aangesien hul dikwels geen menswaardigheid in die samelewing geniet nie.
Blywende voordeel
Om te verseker dat die inwoners blywende voordeel uit die skuilings put, versoek ons die departement om vaardigheidsontwikkelingsprogramme in hul aktiwiteite te betrek. Ons kan nie bloot elke dag vir die inwoners vis gee nie, maar ons moet eerder die tyd neem om hul te leer hoe om vis te vang. Die inwoners moet na hul verblyf by die skuilings ‘n groter kans geniet om ekonomies aktief te kan word.
Die DA sal doen wat ons kan, waar ons kan, om te verhoed dat die pandemie tot ‘n algehele humanitêre krisis in die provinsie lei.