GAUTENG. – Die Madlanga-kommissie se verhore sal van vandag af tot 15 Mei voortgaan om dwelm-beslagleggings deur wetstoepassingsowerhede te ondersoek, sowel as om die hantering en verdwyning van verdowingsmiddels in KwaZulu-Natal en Gauteng te bekyk.
Jeremy Michaels, woordvoerder van die Geregtelike Kommissie van Ondersoek na Kriminaliteit, Politieke Inmenging en Korrupsie in die Strafregstelsel, sê dit is ‘n voortsetting van getuienis wat die vorige week afgelê is, onder meer die in-camera-getuienis van Getuie H van Vrydag.
Hierdie week se sitting is die laaste reeks openbare verhore voordat die kommissie van 18 Mei af aandag gaan gee aan sy tweede tussentydse verslag, wat teen 29 Mei 2026 aan President Cyril Ramaphosa gelewer moet word.





