KWAZULU-NATAL. – ‘n Man (27) is Saterdagoggend onder gebed langs ‘n rivier in Hazelmere deur ‘n groot swart slang, vermoedelik ‘n mamba, gepik.
Reaction Unit South Africa (Rusa) sê die operasionele sentrum is omstreeks 06:40 vir dringende mediese hulp vir die man ontbied. Paramedici het die man agter die Hazelmere-damwal gekry waarheen hy ‘n paar meter gestap het vanwaar hy hulp van veiligheidsbeamptes gevra Rusa gekontak is.
Die man is deur ‘n groot, swart slang aan die linkervoet gepik terwyl hy gebid het. Hy is oortuig dit was ‘n swart mamba. Volgens Rusa het die man ‘n paar simptome van neurotoksiese vergiftiging en uitgebreide swelling op die bytplek getoon. Die man is simptomaties behandel en vinnig na ‘n mediese fasiliteit geneem.





