GAUTENG. – Lethlogonolo Mothlapeng (35) is skuldig bevind op verskeie aanklagtes wat die besit van kinderpornografie en die gebruik van kinders om eksplisiete inhoud te vervaardig, insluit.
Phindi Mjonondwane sê Mothlapeng is in die Johannesburgse hooggeregshof op 10 aanklagte skuldig bevind. Hy het onder meer sy slagoffers ontvoer, verkrag en geïntimideer met wat blyk ‘n vuurwapen te wees,.
“Hy is verder daarvan aangekla dat hy kinders by twee afsonderlike geleenthede gedwing het om seksuele misdrywe te aanskou. Ondanks die erns van die aanklagte het Mothlapeng onskuldig gepleit.”
AO Rakhudu het tydens ondersoek ontbloot twee minderjarige meisies het op 26 Februarie 2023 in die strate van Tarlton gestap toe Mothlapeng hulle met sy voertuig genader en met ‘n vuurwapen gedreig het. Die meisies is beveel om in sy voertuig te klim, waarna hy met hulle na sy huis in Magaliesburg gery het. Hier het hy hulle beveel om uit te trek en vir eksplisiete foto’s en video’s, wat hy met sy selfoon geneem het, te poseer.
“Na die pleging van die misdade het Mothlapeng probeer om die slagoffers te intimideer deur te dreig om eksplisiete inhoud op sosiale media te deel as hulle die voorval sou aanmeld.”
Die minderjarige meisies het egter nie op die dreigement ag geslaan nie en dit dadelik by die polisie aangemeld, waarna Mothlapeng nog dieselfde dag by sy huis vasgetrek is.
Rachel Kau, die senior staatsadvokaat, het een van die slagoffers laat getuig wat beskryf het hoe Mothlapeng haar en haar vriendin na sy bed gedwing, hulle aan trauma en pornografiese materiaal blootgestel en verkrag het.
“Die hof het die video van die beskuldigde, wat tydens die pleging van die misdade opgeneem is, as verdoemende getuienis bevind. Gegewe die oorweldigende aard van hierdie getuienis het die hof tot die gevolgtrekking gekom dat die beskuldigde nie sy betrokkenheid by die misdrywe geloofwaardig kon ontken nie.”
Mjonondwane sê alle gevalle van seksuele geweld maak op die slagoffer se reg op waardigheid en privaatheid, soos verskans in ons grondwet, inbreuk en daarom vervolg die NVG die sake met aggressie.
Mothlapeng sal vandag gevonnis word.





