KWAZULU-NATAL. – ‘n Man, vermoedelik in sy 20’s, het vanoggend (Woensdag) aan skietwonde gesterf voordat hy by ‘n hospitaal kon uitkom. Hy is glo tydens ‘n poging tot ‘n huisroof geskiet.
Garrith Jamieson van ALS Paramedics sê die diens het hulle net na 05:00 na die toneel in Turfwood Place Havenside in Chatsworth gehaas. Met aankoms op die toneel was die oorledene met skietwonde reeds met privaat vervoer na ‘n hospitaal gehaas, maar het voor aankoms gesterf.
Die oorledene se ouers, wat op die toneel aangetref is, was erg getraumatiseer en het tydens die insident aan mediese toestande gely. Hulle is gestabiliseer en na ‘n nabygeleë hospitaal vervoer.
Jamieson sê die insident word deur die polisie ondersoek.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by nuus@nuusflits.com