MPUMALANGA. – ‘n Man (25) van Matsulu is in die hof vir seksuele misdade op Nelspruit direk tot 18 jaar tronkstraf vir die orale verkragting van ‘n 9-jarige gevonnis. Die beskuldigde se naam word weerhou om die minderjarige te beskerm.
Monica Nyuswa, woordvoerder vir die NVG, sê die seun was op 17 Maart 2022 onderweg skool toe. Hy is by die beskuldigde se huis onder ‘n valse voorwendsel die huis ingelok waar die beskuldigde hom beveel het om uit te trek en orale seks op hom toegepas het.
‘n Barmhartige samaritaan het die huilende seun op pad terug na sy huis teëgekom en vir hom gevra wat fout is. Hy is saam met die kind na sy ouerhuis toe en het sy ouers vertel wat gebeur het. Die saak is by die polisie aangemeld, waarna die verdagte gearresteer is.
Nyuswa sê die beskuldigde het in die hof die beweringe teen hom as vals afgemaak.
Leann Jones, die staatsaanklaer in die saak, het egter die saak teen die beskuldigde bewys en die hof het sy weergawe van die insident verwerp. Jones het vir die voorgeskrewe minimum vonnis van lewenslange tronkstraf gevra. Landdros Vanessa Joubert het wesenlike en oortuigende omstandighede gevind om van die lewensvonnis af te wyk en het die beskuldigde tot 18 jaar tronkstraf gevonnis. Die beskuldigde is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit en sy naam sal in die nasionale register vir seksuele oortreders aangebring word.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





