Suid-Afrika het sedert die begin van 2026 ’n toename in maselsgevalle aangeteken, met 3 891 laboratoriumbevestigde gevalle wat teen 16 Augustus landwyd aangemeld is.
Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) het in sy jongste weeklikse verslag gesê 144 nuwe maselsgevalle is sedert die vorige verslag aangeteken. Die Wes-Kaap het die meeste nuwe gevalle aangemeld met 38, gevolg deur Limpopo met 30 en die Noord-Kaap met 20. Gauteng het 16 nuwe gevalle aangeteken, terwyl die Vrystaat 14, Mpumalanga 12, Noordwes sewe, KwaZulu-Natal vyf en die Oos-Kaap twee aangemeld het. Nios het ook 480 laboratoriumbevestigde gevalle van Duitse masels (rubella) tussen 29 Desember 2025 en 16 Augustus 2026 aangeteken. Van dié gevalle was 384, oftewel 79%, kinders tussen een en 14 jaar oud.
Die instituut doen ’n beroep op gesondheidswerkers om toesig oor masels en rubella te versterk en verdagte gevalle vinnig te ondersoek en aan te meld. Die publiek word ook aangemoedig om aan immuniseringsprogramme deel te neem, aangesien inenting die beste beskerming teen rubella bied.
Druk hier om meer te lees.