Suid-Afrika se farmaseutiese vervaardigers en die departement van gesondheid gaan saamwerk aan ’n hersiening van die regulasies wat pryse van medisyne in die private sektor beheer.
Volgens Business Day volg die ooreenkoms nadat plaaslike vervaardigers lank gekla het dat die prysregulasies nie duidelik en konsekwent toegepas word nie. Die besluit is geneem tydens ’n vergadering tussen die departement, farmaseutiese vervaardigers en ander rolspelers in die bedryf. Die bedryf het ook kommer uitgespreek oor die druk op plaaslike vervaardigers, met die Farmaseutiese Taakgroep en Swart Farmaseutiese Nywerheidsvereniging wat vroeër vandeesmaand aan parlementslede gesê het verskeie maatskappye het gesluit en sowat 2 500 poste het die afgelope 18 maande verlore gegaan. ’n Belangrike kwessie is die sogenaamde enkel uitgangsprys (SEP), die gereguleerde prys waarteen vervaardigers medisyne aan die private sektor verkoop. Die prysverhoging vir 2026 was 1,47%, wat volgens vervaardigers aansienlik laer as inflasie was en druk op hul winsmarges geplaas het. Nicholas Crisp, die waarnemende direkteur-generaal van gesondheid, het gesê die departement het ingestem om die SEP-verhoging wat vroeër vanjaar toegestaan is, te prioritiseer vir hersiening.
Die partye het verder ooreengekom om ’n gestruktureerde meganisme te skep om kwessies oor medisynebeleid, pryse, regulering, plaaslike vervaardiging en volhoubare voorraad te bespreek. Gereelde vergaderings sal gehou word om vordering te monitor. Die departement van gesondheid hou reeds ’n databasis van pryse van medisyne wat in die private sektor verkoop word, asook dokumente wat verband hou met die jaarlikse SEP-aanpassings.
Druk hier om meer te lees.
Bron: Business Day