KWAZULU-NATAL. – Daar woon volgens die Kwazulu-Natalse departement van vervoer en menslike nedersettings meer as 400 mense in plakkershutte in die Seaview-begraafplaas in Coedmorestraat, Durban en sommige boonop bo-op grafte.
Siboniso Duma, die LUR vir vervoer en menslike nedersettings, het Sondag in ‘n verklaring aangekondig dat die profilering van gemeenskappe wat in die Seaview-begraafplaas in Wyk 64 onder die eThekwini-munisipaliteit woon, versnel gaan word. Duma het vir Max Mbili, die departementshoof van menslike nedersettings, versoek om saam met die eThekwini-munisipaliteit op te tree om die betrokke gesinne se profiele vinniger saam te stel. “Begraafplase is heilige plekke waar die oorledenes in vrede moet kan rus. Ons doen ’n beroep op gemeenskappe om die afgestorwenes te respekteer.”
Hy het verwys na die regering se pogings kort ná 1994 om gesinne in die gebied te hervestig, met prioriteit aan dié wat reeds sedert 1981 daar gewoon het. In die vroeë 2000’s is verskeie gesinne na nuwe huise in Welbedacht, Chatsworth, onder leiding van die destydse KZN-LUR vir behuising, Dumisane Makhaye, die voormalige LUR, Mike Mabuyakhulu, eThekwini se voormalige burgemeester, Obed Mlaba, en Nigel Gumede, toenmalige voorsitter van die komitee vir menslike nedersettings en infrastruktuur, te verskuif.
Duma het gesê dat sommige van die hervestigde gesinne ongelukkig teruggekeer het, en dat ander nuwe informele nedersettings op dieselfde terrein gebou het. “Hoewel ons bewus is dat mense uit afgeleë gebiede na eThekwini trek op soek na sosio-ekonomiese geleenthede en dat daar ’n tekort aan behuising en grond is, moet daar steeds respek wees vir die grafte,” het Duma benadruk.
Die departement is ook besig met drie navorsingstudies, in samewerking met onder andere die Moses Kotane-navorsingsinstituut, Statistiek SA en die departement van samewerkende regering en tradisionele sake. Die studies fokus op:
- Die behuisingsbehoeftes van huishoudings op privaat grond wat deur ontruimings in die gesig gestaar word;
- Huishoudings in beide landelike en informele nedersettings wat in rampgevoelige gebiede woon;
- Huishoudings wat in begraafplase woon, soos Seaview;
- Die behuisingsbehoeftes van plaaswerkers.
Intussen is die Groter Kokstad- plaaslike munisipaliteit geïdentifiseer as die loodsgebied vir die Agri-Dorpsprogram, wat ten doel het om plaaswerkers se lewensomstandighede te verbeter deur toegang tot behuising, basiese dienste en sosio-ekonomiese geleenthede te verseker.




