WES-KAAP. – Die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand verwag dat nog mpox-gevalle geïdentifiseer kan word namate kontakopsporing voortgaan ná twee sosiale byeenkomste wat aan gevalle in Kaapstad verbind word. 13 van die provinsie se gevalle is sedert middel Augustus geïdentifiseer en hou volgens die departement met die twee byeenkomste verband.
Die jongste data van die nasionale instituut vir oordraagbare siektes (Nios) toon dat 21 mpox-gevalle, waarvan 17 in die Wes-Kaap, teen 18 September bevestig is. Dr. Saadiq Karriem, bedryfshoof van die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand, sê die meeste gevalle is tot dusver lig en pasiënte kon waar moontlik tuis isoleer.
Mpox versprei hoofsaaklik deur noue fisieke kontak, insluitend kontak met letsels, asook besmette klere, beddegoed en ander materiaal. Simptome kan koors, hoofpyn, spierpyn en geswelde kliere insluit, gevolg deur ’n uitslag of letsels wat op verskillende dele van die liggaam kan voorkom.
Kontakopsporing duur voort in samewerking met die Stad Kaapstad, Nios, die nasionale departement van gesondheid en die wêreldgesondheidsorganisasie. Karriem sê gesondheidsowerhede verwag moontlik nog ’n paar gevalle wat uit die twee groepbyeenkomste kan voortspruit.
Druk hier om meer te lees.