SUID-AFRIKA. – Die komediant, spreker en TikTok-ster, Melanie du Toit, het die eerste foto’s van haar troue gedeel.
Suid-Afrikaners ken haar as “Mel die storieverteller” wat aanvanklik skreeusnaakse video’s op TikTok gelaai het. Die reaksie was so groot dat sy in 2023 met haar eerste eenvrouvertoning Almal is mal deur die land getoer het.
Melanie het gistermiddag foto’s van haar en Ronald Welgemoed se spesiale dag op sosiale media gedeel. Hulle het op 4 Februarie afgehaak. “Ons huweliksfeesvieringe was drie dae lank. Nie tradisioneel nie. 50 ongelooflike gaste. 3 Weskus-plekke. Lekker kos. Soveel lag. Baie memories. Min slaap. 1 geringde voël. 1 pop van die rak af,” het sy in haar inskrywing geskerts
Hulle het in Augustus 2023 verloof geraak toe Ronald haar tydens ’n vertoning die jawoord gevra het.
Haar nuwe vertoning Dik Deurmekaar word tans voorberei om in April op die planke te kom.
Die troufoto’s is volgens haar inskrywing deur Film & Fig geneem:


Bron: Mel die storieverteller se Facebook-blad, Film and fig





