Moordverdagte borg geweier in Reneé Lea-saak

Lees ook :

Foto's: Hoërskool Standerton en Crime Busters Zondi Patrol

GAUTENG. – Cuan Karelse (21) van Standerton is Dinsdag borg in die Pretoria-landdroshof geweier. Karelse het op aanklagte van moord op Reneé Lea (57), roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie in die hof verskyn.

Lumka Mahanjana, woordvoerder vir die NVG, sê Lea, van Standerton, is na bewering op 24 Augustus deur Karelse oorval, waarna haar liggaam deur haar voertuigopsporingsmaatskappy in die kattebak van haar motor by ‘n vulstasie in Moreletapark in Pretoria gevind is. Sy was in ‘n mat toegedraai, vasgebind, het kabels om haar nek gehad en haar mond was met kleeflint bedek.

“Hy het in die hof gevra om op borgtog van R1 000 vrygelaat te word omdat hy vir sy swanger meisie wou sorg.”

Mahanjana sê Chris Maruma, die staatsaanklaer in die saak, het die borg suksesvol teengestaan.

“Hy het aan die hof gesê die staat het ‘n sterk saak en oorweldigende getuienis teen die beskuldigde. Verder, het Maruma gesê, sou die beskuldigde op borgtog vrygelaat word, kan hy moontlik die verhoor probeer ontduik. Landdros Msulwane het met die staat saamgestem en bevind dat die beskuldigde nie daarin geslaag het om die hof te oortuig dat buitengewone omstandighede bestaan ​​wat sy vrylating op borgtog regverdig nie.”

Karelse bly in aanhouding. Die saak is vir verdere ondersoek tot 5 Desember uitgestel.

Nuusflits het voorheen soos volg berig.

Na bewering het Karelse die betrokke Saterdag in Lea se huis ingegaan, terwyl sy uit was. By haar terugkeer het Karelse haar glo vasgebind, haar van haar besittings beroof, in ‘n mat toegedraai en in die kattebak van haar motorvoertuig gelaai. Hy het daarna met haar na Pretoria gery.

Mahanjana sê Lea se dogter kon haar nie per telefoon in die hande kry nie en het die opsporingsmaatskappy gevra om haar ma se voertuig te soek. Dit is by ‘n vulstasie in Moreletapark in Pretoria gevind, met die verdagte in die winkel. Petroljoggies het die verdagte as die bestuurder van die voertuig geïdentifiseer.

“Die opsporingsmaatskappy se personeel het die oorledene se liggaam ontdek toe hulle die kattebak van die voertuig oopmaak. Daar was kabels om haar nek en haar mond was met kleeflint bedek. Die polisie is ontbied en die beskuldigde is in hegtenis geneem en aangehou.”

Die hofsaak is ná Karelse se verskyning vir ‘n formele borgaansoek en regsverteenwoordiging tot 2 September uitgestel.

“Die staat beoog om borgtog in die saak teë te staan.”

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App