Deur Deonette de Kock vir LiG tydskrif
“Ek voel alleen en het nie vriende nie. Niemand is lief vir my nie. Ek is ’n loser!”
Dít was die woorde wat die 12-jarige Herman Odendaal bykans vyf jaar gelede in ’n briefie vir sy ouers agtergelaat het. Hulle het dit gevind nadat hy sy eie lewe geneem het.
Volgens sy ma Arina was Herman, haar enigste seun, se dood die gevolg van aanhoudende boeliegedrag by die skool. Dié mishandeling het reeds die vorige jaar begin.
Herman was ’n rooikop met baie sproete, en hy is daaroor gespot. Ook omdat sy voete groot was vir sy ouderdom. Hy het ’n nr 10-skoen gedra.
LEES OOK: Vrou rig houtkruis op ná mislukte selfdood: ‘Jy hoef nie ook die doringkroon te dra nie’
Hy was ’n kop langer as die meeste van sy klasmaats. Hy is fisiek geboelie maar het nooit teruggeslaan nie, al het hy oor ’n oranje belt in karate beskik. Hy wou niemand te na kom of seermaak nie.
’n Sagte kind met ’n groot hart
Arina Odendaal (43) woon deesdae in Odendaalsrus in die Vrystaat. Sy praat openlik oor dié swaar tyd in hul gesin se lewe. “My moederhart is in duisende stukkies,” sê sy vandag. “Die skuldgevoelens rý my. Ek moes dinge vroeër raakgesien het, ek moes fyner opgelet het.
“Herman was ’n sagte kind met ’n groot hart. Hy het altyd ander mense probeer help. Hy was ’n dromer, passievol oor rugby, en wou eendag vir die Springbokke uitdraf. Hy wou ook boer.
“Sy ander belangstelling was mes-makery. Hy het daarvan gehou om met sy hande te werk en dinge reg te maak. Hy was daarom gek oor sy laaste Kersgeskenk – ’n eie toolbox.”
Volgens Arina was Herman diep gelowig. Hy het ’n noue verhouding met God gehad. “Ek het hom baie aande ná slaaptyd nog gekry waar hy Bybelstudie doen.
“Ons twee het ’n baie hegte ma-en-seun-verhouding gehad. ’n Oop verhouding, waarin ons oor alles kon gesels. Herman en sy ousus Jo-Ri, sy is nou 19, was ook erg oor mekaar. Hulle het soms koppe gestamp, maar kon ure lank gesels en speletjies speel.”
Volgens Arina het Herman die grond aanbid waarop sy pa Johan loop. Hulle het dikwels saam gaan visvang en graag oor rugby gesels, oor sport in die algemeen en oor boerdery.
‘Meer as wat ons besef het’
“Die geboelie op skool het hom meer geraak as wat ons ooit besef het. Hy het ons daarvan vertel en ons het dit by die skool gaan rapporteer. Hulle het geluister en sou werk maak daarvan.
“Maar ek vermoed dit het juis die probleem vererger. Daarom het ons besluit om hom die volgende jaar, wanneer hy hoërskool toe sou gaan, by ’n ander skool te gaan inskryf.”
Volgens Arina het Herman voor sy selfdood nie anders as gewoonlik opgetree nie. “Herman was ’n stil kind, soms emosioneel. Dit was sy geaardheid. Boonop was dit Covid-19-tyd en ons het sy frustrasies daaraan toegeskryf.
“Maar ja, ons het definitief sekere tekens misgekyk. Veral toe hy sy bed in sy kamer toegepak het sodat dit ’n klein hokkie gevorm het. Hy het hom meer en meer begin afsonder, ook van ons, sy eie mense.”
‘Ek het op Johan geskreeu’
Op Sondag 19 Julie 2020 het die gesin se lewe vir altyd verander.
Arina vertel: “My man Johan onthou dat hy dié oggend vir Herman hoor werskaf het in die kombuis. Hy was besig om vir hom ontbyt en tee te maak. Daarna is hy buitentoe om te gaan speel. Ek het daardie oggend laat geslaap en eers so halftien wakker geword. Ek het Johan gevra of Jo-Ri en Herman al wakker is om vir ons koffie te maak.
“Hy het toe op Herman geroep, maar daar was geen reaksie nie. Gewoonlik kom hy dadelik as ons hom roep. Ek het toe opgestaan om te kyk waar hy is. Sy hondjie was alleen in sy kamer, wat vir my vreemd was.
LEES DIE VOLLE ARTIKEL GRATIS HIER
LiG is meer as net ’n tydskrif
God is voortdurend besig om die mooiste stories van hoop te skryf – jóú ondersteuning help ons om dit te deel. Hoe meer ondersteuning ons kry, hoe groter kan ons getuienisvoetspoor en impak wees. As jou inspirasievennoot bied ons Christelike inhoud en getuienisse vir elke tree van jou geloofreis.
Jou donasie help ons om meer getuienisse te vertel en dit meer toeganklik te maak. Sodoende kan ons lig bring daar waar donkerte en moedeloosheid is.
Word deel van die getuienis – hier kan jy LiG vandag ondersteun.
Nuusflits publiseer advertensies en geborgde inhoud vir bemarkingsdoeleindes. Die sienings en aansprake wat in advertensies geuiter word, weerspieël nie die standpunte van Nuusflits, sy redaksie, of enige van sy affiliasies nie.





