Bloemfontein Online Co. gesels met Hanli van der Merwe (62) oor haar persoonlike lewe, haar skooltjie All My Children ECD, hoe sy dit in 1999 begin het en wat hulle alles by dié skool aanbied.
All My Children ECD is verskeie maal deur ons lesers genomineer as een van die beste skole in Bloemfontein en ons kry ‘n kykie in die lewe van die vrou agter die skool.
Hanli getroud met Hendrik van der Merwe. Hulle het drie dogters en een seun, en ook vyf kleinkinders van onderskeidelik 12, tien, agt, ses en een jaar oud.
Hanli het in 1978 van Upington na Bloemfontein verhuis na sy op ‘n plaas in die Kalahari grootgeword het. Sy het aan die Universiteit van die Vrystaat haar graad in verpleegkunde voltooi en het daarna vir 14 jaar by Universitas-hospitaal as verpleegster gewerk.
Toe Hanli egter in dié tyd haar rug seermaak, het sy besluit om uit verpleegkunde te tree. “Dit was vir my baie moeilik. Ek het gevoel verpleegkunde was my roeping en dit was wat ek eintlik moes doen.”
Sy het ná ‘n rukkie besluit om na die gemeenskap uit te reik omdat sy gevoel het sy wou steeds iets vir ander mense beteken. “Ek het ‘n groot passie en liefde vir babas en kinders en só het ek begin om eers net babatjies op te pas.”
Sy vertel hoe sy gebid het dat die Here vir haar vyf babatjies gee dat sy iets vir iemand kon beteken. “En toe gee hy vir my 50!”
Hanli het haar skooltjie eers net as ‘n dagsorgfasiliteit geregistreer. Sy het vyf jaar gelede aangebou by haar plekkie en vertel sy beplan ook om in die nabye toekoms nog aan te bou.
All My Children ECD het op die oomblik ongeveer 50 kinders tussen die ouderdomme van ses weke en vyf jaar oud.
Hanli het op die oomblik agt personeellede wat by All my Children ECD werk. Haar dogter, Cornelia van der Merwe, is haar “regterhand” en tree op as bestuurder by die skool. “Sy is al vir baie jare by die skool betrokke en sy is werklikwaar my regterhand!”
Elize Jansen van Vuuren is Cornelia se assistent.
By All My Children ECD word daar verskeie aktiwiteite vir die kinders aangebied. Kinderkinetika, wat deur Danielle Vermeulen aangebied word, Babynastics, netbal-, rugby-, dans- en rekenaarklasse, en ook karate, kindermusiek, sokker en swemlesse word, onder andere, by die skool as deel van die program aangebied.
Hanli vertel dat die kinders by haar skooltjie se geluk vir haar die belangrikste is. “Ek glo nog altyd as ‘n kind gelukkig is, is sy ouers gelukkig. So ons kinders se veiligheid en versorging is vir my die belangrikste!”
Hanli vertel as sy nie by die kleuterskool doenig is nie en ‘n tydjie vir haarself kan afknyp, maak sy graag tuin. “Ek is baie lief vir tuinmaak, alhoewel ek min tyd daarvoor kry. Ek het ‘n liefde vir blomme, plante en net die rustigheid wat daarmee saam kom. My lewe draai eintlik maar om ons kinders en hulle versorging.”
Sy vertel hoe sy en Cornelia hulself elke jaar fisies en emosioneel moet voorberei vir wanneer die kinders, waarvoor hulle só lief geraak het, die skooltjie moet verlaat. “Elke jaar is daar kindertjies wat vyf jaar oud word wat vandat hulle babas was, by ons is. ‘n Mens bou ‘n ongelooflike band met hulle. Sommiges noem my sommer ouma!”
Sy vertel hoe lekker dit vir haar is om by die skool in te stap en hoe die kinders se liefde en drukkies haar dag onmiddellik ophelder. “Dit maak nie saak of jy miskien ‘n slegte oggend gehad het nie. As ek by die skool instap, hardloop die kindertjies na my toe en gee vir my drukkies. Die liefde wat ek van hulle af kry, is ongelooflik.”
“‘n Mens loop ‘n pad saam met die kinders. Sommige ouers met kinders wat 20 jaar gelede by ons was, bring soms hulle kinders om vir hulle te wys waar hulle in die kleuterskool was. Dan het hulle in die mooiste jongmense verander. Maar in hulle ogies kan ‘n mens sien dis dieselfde kind.”
“Mens dink partykeer daar is net een roeping vir jou, iets wat jy met hart en siel in glo. In my geval, het die Heer my op ‘n nuwe pad gelei, wat ongelooflik gegroei het en baie suksesvol is. Alle lof en eer aan ons Hemelse Vader. Sonder Hom sou ek dit nooit kon doen nie.”





