‘n Jaar later

Lees ook :

FiND iT is nog in sy babaskoene, maar dis omtrent ‘n baba en ‘n half dié!

Ons het met klein idees begin, wat baie vinnig gegroei het. Eers wou ons net ondernemings lys, toe groei dit na baniere, toe staan ons leserstal op 35 000 lesers ‘n maand en nou is ons ‘n aanlyn-koerant!

Advertensie- en redaksionele spanne

Party dae gaan in ‘n waas verby, dat ek nie weet of ek kom of gaan nie. Nuwe programme word geleer, die pas hier is vínnig. Ons dryf ons advertensie- en redaksiespanne hárd en elke dag “deliver” hulle.

Ons het al twee keer van kantoor verskuif en het ons blyplek nou in die ou Gariepfees-kantore, by Du Toitspanweg 157, gevind. Hier kan jy ons kom besoek, kom koffie drink, pryse optel of sommer jou storie kom vertel.

Te min ure

Die afgelope jaar het ook nie sonder sy uitdagings gekom nie. Elkeen is dag-vir-dag hanteer en soms het ek met ‘n vinnige hartklop die volgende dag se beplanning gedoen, want HOEKOM IS DAAR SO MIN URE IN ‘N DAG?

Ek kan met baie trots sê die span wat ek het, is fantasties. Ek maak hulle party dae mal, maar elke keer daag hulle die volgende oggend weer op. 🙂 Elke liewe persoon wat hier werk, kan alles doen – op die apps werk, ontwerpe doen, skryf, advertensies opstel, syfers ontleed en op al ons programme werk. Dis so lekker om te sien hoe ander mense groei en ontwikkel. Ek wil hê FiND iT moet tog vir elke persoon iets beteken. Dis ‘n plek waar jy jouself kan vestig. ‘n Geleentheid. Die begin van iets opwindend en nuut in Kimberley. Ons kan kompeteer met van die bestes en ek wil elke dag verbeter.

FiND iT se “dream team”

Baie, baie dankie aan elkeen wat die pad saam met ons stap. Dankie aan elke liewe kliënt en my hele span:

Marcelle (met die wil van staal en het altyd ‘n oplossing vir enige ding!);

Mike (die mees talentvolste digitale fundi, wie se liefde vir joernalistiek elke dag wys);

Charné (my “tienerdogter” wat wéét wat mense lees en vreeslik opgewonde raak as iets haar passie laat opvlam);

Kristen-Leigh (die mees gedetermineerde jong vrou wat ‘n fantastiese mamma gaan wees oor ‘n paar maande);

Robyn-Leigh (ons nuwe toevoeging wat stil-stil haar pad vind)

Johan (wat se passie vir sy werk my maande terug opgeval het en nou is sy handewerk op amper elke sypaadjie in Kimberley te sien)

Nick (splinternuut, maar so talentvol)

en laaste, maar nie die minste nie, Alta. Alta verlaat ons na ‘n jaar om haar weer haar toe te spits op “sagter” nuus, maar sy was my regterhand vir die afgelope jaar. Daar is niks wat Alta nie kan raakvat en uitsorteer nie. Sy het altyd ‘n kalmerende uitwerking gehad op almal en wanneer die humeure sou opvlam, kon sy dit kalmeer. Ons gaan jou baie mis! – Jana Grobbelaar, besturende redakteur

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App