KWAZULU-NATAL. – Die voorste en middelste asse van die luuksebus wat Maandagoggend 16 November op die N3 by die New Englandweg-afrit in Pietermaritzburg omgeslaan het, het volgens ’n voorlopige verslag van die padverkeersinspektoraat (RTI) losgebreek toe die bus ’n veiligheidsreling getref het.
Sowat 28 mense, insluitend die bestuurder, was aan boord. Niemand het in die ongeluk omgekom nie. Siboniso Duma, KwaZulu-Natal se LUR vir vervoer en menslike nedersettings, sê die RTI vermoed die bestuurder het weens spoed beheer oor die bus verloor. Volgens Duma het die reling gehelp om ’n ernstiger ongeluk te voorkom. Hy sê die beseerdes is na die Northdale-, Harry Gwala- (Edendale), Grey’s-, St Anne’s- en Eden Gardens-hospitale vervoer.
Duma sê die RTI en Operasie Shanela-spanne sal in aanloop tot die feestyd onaangekondigde inspeksies uitvoer en beslag lê op busse wat onpadwaardig bevind word. Hy het die departementshoof, Zibusiso Dlamini, opdrag gegee om ’n padveiligheidsplan vir die feestyd te finaliseer.
