GAUTENG. – Wetenskaplikes aan die Universiteit van Pretoria het ’n geen met die naam van Slc7a8 geïdentifiseer, wat moontlik ’n belangrike rol speel in vetsug wat deur ’n hoëvetdieet veroorsaak word. Dit kan moontlik as ‘n deurbraak beskou word en kan straks instrumenteel wees om doeltreffende behandeling moontlik te maak.
Volgens prof. Melvin Ambele van UP se Instituut vir Sellulêre en Molekulêre Geneeskunde, het die navorsers gevind dat muise sonder dié geen minder gewig op ’n hoëvetdieet as muise met die geen optel. “Vetsug raak nie almal op dieselfde manier nie,” sê hy. “Die impak op organe kan vroeg begin en later tot ander siektes lei.”
Die muise sonder die Slc7a8-geen het beter suikerverwerking, minder vet in organe soos die lewer en hart, en laer ontsteking in vetweefsel getoon. Dit dui daarop dat hierdie geen ’n rol speel in hoe vet in die liggaam gestoor word en dat dit moontlik vir ‘n nuwe behandeling gebruik kan word.
Ambele sê dat Slc7a8 dalk ’n beter langtermyn-oplossing bied as sommige huidige medisyne teen vetsug, wat dikwels newe-effekte het. Die studie het ook beklemtoon hoe belangrik dit is om sowel manlike as vroulike diere in navorsing in te sluit, aangesien vetsug op verskillende maniere in die twee geslagte ontwikkel.
Suid-Afrika het ’n hoë vetsugsyfer wat een uit elke vier volwassenes raak. Navorsers sê vetsug kan voorkom word en beveel gesonde eetgewoontes, meer fisieke aktiwiteit en regeringsbeleid aan wat gesonder keuses makliker en meer bekostigbaar maak.
Lees meer hier.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by nuus@nuusflits.com