GAUTENG. – ‘n Negende verdagte is in hegtenis geneem in ‘n operasie wat Dinsdag onder leiding van Noord-Kaapse Valke begin is en Woensdagoggend geëindig het. Die verdagtes is in Gauteng en Noordwes-provinsies gearresteer.
Kol. Philani Nkwalase van die Valke en Lumka Mahanjana van die NVG sê in ‘n gesamentlike verklaring die sindikaat is na bewering by bedrog en die handel in ongepoleerde diamante betrokke.
“Die meesterbrein het na bewering ongepoleerde diamante op sosiale media geadverteer en potensiële beleggers, met ‘n belofte van ‘n winsgewende opbrengs wat nooit gerealiseer het nie, genooi om in sy beweerde diamanthandelbesigheid te belê.”
Maj.genl. Matroos, waarnemende provinsiale hoof van die Valke, het die span ondersoekers en aanklaers, wat die sindikaat op sy knieë gedwing het, geprys: “Hierdie suksesvolle geïntegreerde pogings deur die sekuriteit- en geregtigheidsentiteite is ‘n aanduiding dat die lang arm van die gereg uiteindelik diegene inhaal wat buite die wet optree, maak nie saak hoe lank dit neem nie.”
Nuusflits het vroeër berig Louis Liebenberg en sy vrou Dezzi is Dinsdagaand kort voor 20:00 in ‘n restaurant by die Benoni Country Club aan die Oos-Rand in hegtenis geneem. Mike Bolhuis van Specialised Security Services en die polisie het die arrestasies bevestig.
Diamantbeleggers is glo sedert 2019 uit meer as R4 bn. bedrieg. Meer arrestasies word verwag en die verdagtes sal na verwagting Donderdag op onder meer aanklagte van bedrog, geldwassery, diefstal en rampokkery in die Bronkhorstspruit-landdroshof verskyn.
Mike Bolhuis het die owerhede, veral die Valke en die gespesialiseerde eenhede van die polisie wat saam met likwidateurs, SAID en die Specialised Security Services-taakspan werk, geprys. Hy het ook ‘n streng waarskuwing gerig aan diegene met inligting aangaande die Liebenberg-transaksies om na vore te kom en hulle volle samewerking aan die owerhede te gee. Voorts is fluitjieblasers wat na vore gekom het vir hulle dapperheid geprys. Hy vra diegene wat nog nie kriminele sake geopen het nie, om dit te doen. Bolhuis waarsku dat die vervolgingsfase van hierdie saak ‘n lang proses sal wees en betrokkenes word gevra om geduld aan die dag te lê, aangesien geregtigheid uiteindelik sal seëvier.
Die ondersoek duur voort en meer inhegtenisnemings word verwag.





