Die Kimberley-geesteshospitaal is al voor sy eerste baksteen gelê is, ‘n voedingskrip vir korrupsie. Meer as 20 jaar, en meer as R2,1 miljard later, bly dit ‘n onbewoonbare monument van korrupsie.
Die verdoemende bevindinge van die gesondheidsombud, prof. Taole Mokoena, rakende kritieke personeeltekorte, die gebrek aan senior klinici en onvoldoende gesondheidsorgvoorsiening by die geesteshospitaal en die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal, vereis dringende aandag. Maar dit moenie die onderliggende wanfunksionaliteit van die Kimberley-geesteshospitaal en die provinsiale gesondheidsbestuur se volgehoue versuim om daarop op te tree, oorskadu nie.
Dit is duidelik uit prof. Mokoena se verslag dat pasiënte “doodgevries” het en gesterf het aan hipotermie en longontsteking, gedurende die meer as 12 maande lange tydperk waartydens die fasiliteit kragloos en sonder verhitting was. Dit volg op voorvalle van kabeldiefstal.
Die DA waarsku al die afgelope vyftien jaar teen voortdurende korrupsie en wanbestuur by dié fasiliteit. Dit strek vanaf die konstruksiefase tot die uiteindelike operasionalisering daarvan. Verlede jaar, voordat die nuus van die sterftes op die lappe gekom het, het die DA reeds gewaarsku dat die geesteshospitaal ernstige risiko’s vir pasiënte en personeel inhou. Ons het die LUR vir Gesondheid, Maruping Lekwene, en die waarnemende hoof van die departement, Mxolisi Mlatha, versoek om ‘n hoëvlak-ingryping te loods. Ons pleidooi het op dowe ore geval. Die arbeidsdepartement het die hospitaal daarna ook met ‘n verbodskennisgewing gedreig.
Die DA sal nie toelaat dat gesondheidsorgpersoneel die skuld kry vir die dood van geestesgesondheidspasiënte nie. Die provinsiale gesondheidsbestuur moet eerder aanspreeklik gehou word. Hulle is diegene wat voortgaan om die ineenstorting van provinsiale gesondheidsorg te ontken en growwe menseregteskendings teen geestesgesondheidsorgpasiënte en staatspasiënte laat voortduur.
In plaas daarvan om oorwerkte dokters en verpleegkundigdes aan te val, moet die minister stabiliteit in die top provinsiale bestuur van die gesondheidsdepartement herstel. Dit is ‘n departement wat deur ‘n waarnemende hoof van die departement en ‘n waarnemende finansiële hoof gelei word. Hulle neem waar vir ‘n departementshoof wat reeds aan finansiële misgrype skuldig bevind is en vir ‘n finansiële hoof wat by beweerde korrupsie van persoonlike beskermende toerusting betrokke is. Hulle verdien steeds top salarisse terwyl hulle alternatiewe poste binne die departement beklee.
Hierdie wanfunksionaliteit het die ganse provinsiale gesondheidstelsel besmet. Dit het ‘n hoogtepunt bereik by die geesteshospitaal en moet van bo na onder reggestel word om integriteit, bestuur en sorg binne die provinsiale gesondheidsektor te herstel.
Nuusflits het kommentaar van die mediese fasiliteite gevra. Intussen het die departement van gesondheid in die provinsie ‘n verklaring ten opsigte van die ombudsman se ondersoekverslag uitgereik. Lees meer hier onder.
Lees ook: Sol Plaatje-munisipaliteit ontdek lek, watertoevoer aangetas






