MPUMALANGA. – Twee verdagtes verskyn vandag in die Standerton-landdroshof nadat nog ‘n “dwelmlaboratorium” met ‘n geskatte straatwaarde van R28 m., Dinsdag in Flora Park ontdek is.
Lt.kol. Magonseni Nkosi sê die Valke, narkotikaburo, misdaadintelligensie, honde-eenheid, die plaaslike kriminele rekordsentrum, forensiewe wetenskaplaboratorium en ‘n veiligheidsmaatskappy het op ‘n persmasjien en 35 emmers met poeier, om tablette van te maak, afgekom. Die poeier word op R26 m. en die persmasjien op R2 m. geskat.
Nkosi sê boonop is sewe ongesluite voertuie, waarvan die kattebakke gesluit is, op die toneel gevind. Die ondersoek duur voort.
Nadat verskeie sake oor die besit van dwelms aangemeld is, het die Valke die oorsprong van die dwelms gemonitor. Die monitering is suksesvol uitgevoer nadat twee klandestiene laboratoriums binne ‘n week toegemaak is. Die twee Suid-Afrikaners is gearresteer, vier dae nadat ses Mosambiekse burgers vir soortgelyke klagtes in Standerton vasgetrek is.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





