MPUMALANGA. – Die verbrande liggaam van ‘n jong vrou is Woensdagaand omstreeks 18:00 op Pienaar gevind.
Kapt. Magonseni Nkosi sê die liggaam van ‘n onbekende vrou is deur ‘n verbyganger in die bergagtige gebied tussen Pienaar en Kanyamazane buite Nelspruit gevind. Sy is op die toneel dood verklaar.
Nkosi sê die polisie werk hard om die skuldiges in hegtenis te neem.
Peaceful Khoza (3) se liggaam is Donderdag deur die polisie in ‘n vlak graf op Pienaar opgegrawe. Junior Mabandla se liggaam is ook daar opgegrawe. ‘n Verdagte is op aanklag van die twee kinders se moorde in hegtenis.
Dit is die soveelste liggaam wat die afgelope tyd hier ontdek is. Bonisiwe Mabuza (37), wat as vermis deur haar familie aangemeld is, se liggaam is ook in ‘n vlak graf in die gebied opgegrawe.
Die verbrande liggaam van ‘n man is in Junie by ‘n sportterrein op Pienaar ontdek.





