NOORDWES. – Xander Bylsma (21) wat van die moord op sy eksmeisie en sy kleinniggie beskuldig word, verskyn môre weer in die Mmabatho-hooggeregshof.
Koshuis
Sharnelle Hough (17) en haar vriendin, Marna Engelbrecht (16), se liggame is op 26 Mei verlede jaar in die koshuis van die Hoërskool Stella gevind. Hough het aan ’n nylontou aan ’n trapreling gehang. Engelbrecht se liggaam is in die badkamer met ’n handsakband om haar nek, gevind. Albei die leerders is vermoedelik verwurg.
Volgens Netwerk24 is die staat gereed om môre nog getuies te roep.
Bylsma se tweede regspan het in Mei vanjaar onttrek en sy eerste prokureur het glo vroeër vanjaar weens ’n vertrouensbreuk onttrek.
“Bylsma het nou ’n derde regspan omdat sy vorige regspanne onttrek het nadat etiese probleme blykbaar tydens die vroeëre verrigtinge ontstaan het. Adv. Sakkie Nel en die prokureur Conrad Bester verdedig Bylsma nou,” berig Netwerk24.
Bekentenis
Volgens Maroela Media se berig vroeër vanjaar is die bekentenis wat na bewering in die bakkie op pad na die polisiekantoor aan privaat speurder, Chris Saunders, gemaak is, ook op band vasgevang. Bylsma se stem kan op die bandopname gehoor word. Hierop sê hy aan die speurder dat Marna op die aand eerste gesterf het. Hy wou daarna probeer om dinge tussen hom en Hough uit te praat. Bylsma sê ook op die bandopname hoe hy die nylontou om Hough se nek gebind het en haar daarna by die trapreling laat afsak het.
Netwerk 24 berig ook dat ’n binneverhoor gehou is om die toelaatbaarheid van die bekentenis en uitwysings te bepaal. “Regter Ronald Hendricks het in September vanjaar beslis dit sal wel toegelaat word, maar hy sal later redes verskaf.”
