NVG lê klag teen hooflanddros ná omstrede hofverrigtinge in Mpumalanga

Lees ook :

Foto: DA

Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het Dinsdag ’n formele klag teen hooflanddros Tuletu Tonjeni by die Landdroshofkommissie ingedien, ná haar hantering van ’n saak in Kwaggafontein vroeër vandeesmaand.

Nasionale NVG-woordvoerder Kaizer Kganyago sê die klag spruit uit ernstige kommer oor hoe die hofverrigtinge op 15 en 18 Mei bestuur is, toe Tonjeni die saak van die staat teen Madoda Johannes Sibanyoni en ander aangehoor het. Die NVG voer aan dat die verrigtinge gelei het tot twee omstrede bevele, naamlik die skuldigbevinding van ’n aanklaer vir minagting van die hof, die magtiging van ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming, asook die skrap van die strafsaak van die rol ingevolge artikel 342A van die Strafproseswet.

Volgens die NVG is ’n kennisgewing om appèl reeds ingedien teen die minagtingsbevel en die lasbrief, maar die instelling meen dit is ook nodig om die aangeleentheid formeel by die Landdroshofkommissie aan te meld. Die organisasie meen die optrede tydens die verrigtinge ernstige institusionele kommer oor regterlike gedrag, prosedurele billikheid en die behoorlike administrasie van geregtigheid wek. ’n Ondersoek deur die kommissie sal, volgens die NVG, help om die integriteit van die landdrosbank te beskerm, aanspreeklikheid te verseker en soortgelyke onreëlmatighede in die toekoms te voorkom.

Die nasionale direkteur van openbare vervolgings, Andy Mothibi, glo die proses sal bydra om die beeld van die strafregstelsel te beskerm en die rekord reg te stel.

Soos Nuusflits voorheen berig het, het die aanklaer nie by ‘n hoëprofiel borgtogaansoek van Madoda Johannes Sibanyoni en ander, waar die beskuldigdes op klagtes van afpersing en geldwassery tereg staan, opgedaag nie en die saak is van die hofrol geskrap. Die polisie in Mpumalanga het egter verseker dat hulle steeds ‘n sterk saak teen vier verdagtes in dié Kwaggafontein-afpersingsaak het. Adv. Glynnis Breytenbach, DA-woordvoerder oor justisie en grondwetlike ontwikkeling, het gesê taxibaas Joe “Ferrari” Sibanyoni kon die hof verlaat sonder dat sy borgtogsaak afgehandel is. Breytenbach het die voorval beskryf as nog ‘n bewys dat die NVG sukkel om ernstige misdaadsake doeltreffend te hanteer. 

Lees meer hier onder:

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief