OOS-KAAP. – Vier olifante is Woensdag vasgekeer toe die vragmotor waarin hulle vervoer is, op Olifantskoppas omgeslaan het. ‘n Voorlopige verslag dui daarop dat ‘n verskuiwing in gewig die ongeluk kon veroorsaak.
Die NDBV het in ‘n verklaring gesê die organisasie is bewus van die ongeluk. Grahamstad-DBV was op die toneel, waar daar na die olifante se welstand in die hitte omgesien is. Die olifante het geen sigbare beserings opgedoen nie en die DBV is ingelig twee veeartse van SANParke is op die toneel.
Die olifante is na bewering deur SANParke aan die jagplaas, Samara Private Game Reserve, naby Graaff-Reinet, geskenk. Die NDBV sê dit sal interessant wees om te weet hoekom die olifante, wat die regering as ‘n bate bestempel, aan ‘n privaat wildsplaas geskenk word.
“Die NDBV het reeds genoeg kommer en probleme oor olifante in private wildreservate soos dit nou staan. Dit is ‘n ontwikkelende situasie, en opdaterings sal gegee word sodra meer inligting beskikbaar word. Die NDBV betuig sy dank aan die Grahamstad DBV vir die reaksie buite sy werksgebied om na die welstand van die olifante om te sien.”
Die Grahamstad-DBV het die vragmotor met olifante, nadat dit weer regop gebring is, vergesel.
