KWAZULU-NATAL. – ‘n Baba (2 weke oud) is glo Sondag deur ‘n vrou (21) in Cato Manor uit haar ma se sorg ontvoer, nadat sy op 24 April ‘n miskraam gehad en toe vriende met die baba se ma by ‘n kliniek gemaak het.
Reaction Unit South Africa (Rusa) sê die baba se ma het die diens Sondagaand omstreeks 22:00 gebel en gesê die baba is vroeër ontvoer. Reaksiebeamptes het die vermiste baba binne 11 uur in verskeie provinsies opgevolg. Gedurende die vroeë oggendure het die soektog na Chesterville gelei. Reaksiebeamptes het geglo die verdagte gaan met die baba uit die provinsie vlug en het sodoende alle in-en-uitgange blokkeer en waargeneem, terwyl die Rusa-helikopter die soektog meegemaak het. Die verdagte vrou en die baba is vanoggend (Maandag) omstreeks 09:15 in die gebied van die Westville Pavillion-inkopiesentrum opgespoor.
‘n Vrou met ‘n pasgebore baba wat verdag optree, is opgemerk. Toe reaksiebeamptes haar voorkeer, is bevind die baba is wel die vermiste kind. Die verdagte vrou is gearresteer en uit die gebied verwyder nadat die gemeenskap glo gedreig het om haar dood te maak. Die verdagte is by GKS-Cato Manor aangehou en deur die baba se ma as die vrou wat haar baba ontvoer het, geïdentifiseer.
Rusa sê die verdagte vrou het tydens ‘n onderhoud beken sy het ‘n miskraam gehad en het die baba se ma by ‘n plaaslike kliniek ontmoet. Die verdagte het glo beplan om die baba te ontvoer sodat haar kêrel haar nie moet los nie. Sy het die baba se ma tuis besoek en toe die ma om 15:00 ‘n bak water buite gaan uitgooi, het die vrou met die baba en die ma se selfoon gevlug.
Die ma het met behulp van die gemeenskap onsuksesvol na die baba gesoek. Die verdagte het na die ontvoering glo haar kêrel besoek en hom oortuig die baba is syne. Omdat sy nie babaformule kon koop nie, het sy die baba water in ‘n bottel gevoer.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





