WES-KAAP. – Opwinding en trots het natuurliefhebbers van die Tuinroete en elders aan die gons gehad toe die bekende Knysna-olifant onlangs op ‘n plaas in die Knysna-woud waargeneem is. Die besonderse oomblik is op video en met foto’s vasgevang. Die publiek word egter vir haar eie sowel as mense se veiligheid gevra om nie die olifantkoei se ligging bekend te maak of haar te probeer volg nie.
Luidens ‘n verklaring van die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke) word die olifant al vir ‘n geruime tyd deur nie-indringende kameras dopgehou. Die kameras versteur nie die olifant se natuurlike gedrag nie en sodoende is haar teenwoordigheid elke paar weke opgeneem. SANParke sê dit is tans besig met ’n omvattende risikobepalingsproses om toekomstige besluite oor die bestuur en beskerming van die Knysna-olifant te lei. Besluite sal op wetenskap, bewaringsbeginsels en betrokkenheid van belanghebbendes gebaseer wees en openbaar gemaak word en deursigtig gekommunikeer word wanneer voltooi.
Die gewilde Knysna-olifant, ook die Loxodonta africana genoem, is dieselfde spesie olifante wat elders in Suid-Afrika voorkom. Getrou aan haar aard, is die koei besonder skugter en vermy menslike kontak.
“Data toon dat wanneer sy gevolg word, haar beweegpatrone verander en stresvlakke verhoog. Hierdie bevindinge is deur ontleding van haar mis bevestig.”





