VRYSTAAT. – ‘n Senior beampte van die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) is gearresteer. Dit volg nadat die polisie ‘n deurbraak in die ondersoek na die moord van die beampte se vrou op 20 November 2022 in Hillside View, in Bloemfontein, gemaak het.
Kapt. Loraine Earle sê die inhegtenisneming het na ‘n behoorlike ondersoek en regsoorsig gevolg. Op die betrokke datum is ‘n vuurwapen afgevuur, waartydens Dineo Matlakeng (50), in wat as ‘n vreemde huishoudelike dispuut bestempel is, noodlottig gewond is. Earle bevestig die omstandighede van die insident was bevraagteken, waarna ‘n voorlopige ondersoek gedoen is en die geregtelike doodsondersoekdossier vir ‘n besluit aan die direkteur van openbare vervolging voorgelê is. Die DOV het besluit om ‘n lasbrief vir inhegtenisname, op aanklag van moord met voorbedagte rade, vir die verdagte om in die hof te verskyn, uit te reik.
Kleinbooi Mote Matlakeng (55) het homself aan die polisie oorhandig en hy is formeel aangekla, waarna hy in die Bloemfontein-landdroshof verskyn en op borg van R1 000 vrygelaat is. Die saak is tot 24 Maart uitgestel.
Earle sê die ondesoek duur voort en die polisie werk saam met die Opod-hoofkantoor vir die interne prosesse van die diens wat gevolg word.





