GAUTENG. – Ouma Anna se lewe is Sondag, op Moedersdag, deur Best Care EMS en ander mediese rolspelers by die Mayville Mall in Pretoria gered nadat vleis in haar keel vasgesit het.
Xander Loubser sê in ‘n sosialemediaplasing die familie van die ouma het dadelik opgetree om haar te help, maar basiese tegnieke kon net nie in hierdie geval help nie en haar hart het gaan staan. Terwyl Xander, ‘n geliefde en bekende paramedius in Pretoria, KPR toegepas het, het dr. Khoza die stuk vleis met ‘n mediese tang uit die ouma se keel gehaal. Ouma Anna is na die ondervinding aan ‘n KPR-masjien gekoppel en kon weer asemhaal sonder dat haar hart geskok is. Sy het dadelik na haar sakdoek en bril gesoek nadat sy haar asem teruggekry het.
Xander sê die plasing is met die ouma se toestemming gemaak. Lees die volledige plasing hoe Xander vertel hoe ouma Anna se lewe gered is hier onder:
𝗠𝗢𝗧𝗛𝗘𝗥’𝗦 𝗗𝗔𝗬 – 𝗔 𝗗𝗔𝗬 𝗧𝗢 𝗩𝗔𝗟𝗨𝗘 𝗟𝗜𝗙𝗘
Another life saved, thanks to an amazing team at Best Care Emergency Medical Service! An initiative proudly supported by Medicare Hospital Equipment and Chery Centurion! This case have changed our 2025 CPR statistics to 80% ROSC with 60% good neurological outcomes. Well done to all involved!
Tydens my studies in Bloemfontein het ek ‘n merkwaardige persoon ontmoet, ek gee toe, hy het my al warm onder die kraag gehad, maar ‘n mentor en vriend is hy vir seker. Dr. Tshikani het gisteraand saam met my kom werk en is die nuutste byvoeging tot ons unieke Advanced Life Support and Cardiac Unit – so sal die eerste geval wat ons kry, ‘n verstikking wees.
‘n Groot stuk vleis het in ‘n byna 70-jarige ouma se keel vasgesit. Dankie aan die familie wat gepoog het om die obstruksie uit te kry. Julle het reg opgetree, maar ongelukkig was die vleis net té groot en onmoontlik om met basiese tegnieke uit te haal.
Ouma Anna, wat nou wakker is en met ons praat, se hart het gaan staan nadat dit onmoontlik was om die stuk vleis uit te kry. Ek doen borskompressies, dr. Khoza visualiseer die stuk vleis met ‘n laringoskoop, haal dit uit met ‘n Magills-tang, Ouma word gekoppel aan die Corpuls CPR-masjien en Errol gee weer vir ouma asem.
30:2; 30:2; 30:2…so gaan ons aan
Die familie staan in afwagting op ‘n positiewe uitkoms. Ek kyk na die skerm van die defibrillator. “Do not touch the patient, analysing heart rhythm” … “No shock advised” – Ouma het ‘n pols. Na aanleiding van ons laaste hartstilstand in Mayville Mall, besluit ek om nie die lugweg oor te neem nie. Ek verduidelik aan my span, gee 5 minute kans, kom ons ondersteun Ouma en kyk of sy wakker word.
Nie te lank daarna nie: “Waar is my sakdoek?” vra ouma Anna, “Waar is my bril?”
Ouma Anna leef, ouma Anna praat. Enkele minute terug was daar geen pols, geen elektriese aktiwiteite vanaf die hart. Ouma Anna kan die storie met haar kleinkinders deel, kan vandag Moedersdag saam met haar kinders vier, en kan die Here dank vir Sy genade, vir nog ‘n kans.
Ek is dankbaar vir my span, vir my ondersteuningsnetwerk en vir God se genade!
Geseënde Moedersdag aan elke Mamma daar buite. Mag Ouma Anna se verhaal jou vir ewig bybly as ‘n herinnering dat die lewe kort kan wees, en oomblikke vir altyd.
(Die nodige toestemming is verkry om die plasing te deel.)
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





