Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het die 2026- munisipale verkiesing Sondagaand amptelik as vry en regverdig verklaar. Die ANC het die grootste aandeel van die stemme ontvang, met 30,89% en 3 164 raadsetels. Die DA het tweede geëindig met 24,60% en 1 527 setels, gevolg deur die uMkhonto weSizwe-party (MK-party) met 9,61% en 701 setels. Die EFF het 6,25% van die stemme en 505 setels behaal, terwyl ActionSA 5,68% en 219 setels verwerf het. Ander politieke partye en onafhanklike kandidate het gesamentlik 22,97% van die stemme ontvang.
Mosotho Moepya, voorsitter van die OVK, het tydens die bekendmaking van die finale uitslae gesê sowat 14,9 miljoen van die land se 29,2 miljoen geregistreerde kiesers het hul stemme uitgebring. Die nasionale kiesersopkoms was 52%, teenoor 45,9% tydens die 2021- munisipale verkiesing. Dit is ‘n toename van 6,1 persentasiepunte. Moepya het gesê die verkiesing het grootliks in ‘n vreedsame omgewing verloop en dat die uitslae van al 213 munisipale rade afgehandel en verklaar is. Volgens Moepya het 521 politieke partye en 636 onafhanklike kandidate aan die verkiesing deelgeneem. Hulle het gesamentlik sowat 137 000 kandidate vir die verkiesing beskikbaar gestel. Altesaam 10 526 raadsetels is betwis.
Wat munisipale beheer betref, het die ANC ‘n volstrekte meerderheid in 51 munisipaliteite behaal en is dit die grootste party in 120 munisipaliteite. Die DA het ‘n volstrekte meerderheid in 12 munisipaliteite behaal en is die grootste party in 29. Die Inkatha Freedom Party (IFP) het beheer oor vyf munisipaliteite verkry en is die grootste party in 19, terwyl die MK-party ‘n volstrekte meerderheid in drie munisipaliteite behaal het en die grootste party in 18 is. Rise Tsantsabane Communities het ‘n volstrekte meerderheid in een munisipaliteit behaal. Die OVK het aangedui dat 72 munisipale rade ‘n party met ‘n volstrekte meerderheid het. Die persentasie bedorwe stembriewe was 1,84%.
Die Menslike Wetenskappe-navorsingsraad (HSRC) se 2026-verkiesingstevredenheidsopname, wat namens die OVK gedoen is, het bevind dat 90% van die ondervraagde kiesers die verkiesingsprosedures as vry beskou het en 91% dit as regverdig beskryf het. Altesaam 95% was tevrede met die diens van OVK-amptenare, terwyl 91% aangedui het dat hulle nie langer as 30 minute in rye gewag het nie. Vertroue in die OVK is op 81% aangeteken, hoewel dit laer is as die 93% wat in 2016 aangeteken is. Die opname het ook uitdagings soos intimidasie, onpartydigheid, inklusiewe stemreg en leemtes in inligting uitgewys wat verdere aandag verg.
Die verkiesing was egter nie sonder voorvalle nie. Die OVK het ‘n nuwe stemming gelas by die stemlokaal by Jabulani-gemeenskapsentrum in wyk 3 van die Siyancuma-munisipaliteit in Douglas, Noord-Kaap, nadat stembriewe vernietig is voordat dit getel kon word. Die kommissie het die verkiesingshof genader en ook ‘n strafsaak by die Suid-Afrikaanse Polisiediens geregistreer. Moepya het verder bevestig dat besware wat ná die verkiesing ingedien word, steeds ingevolge die toepaslike wetgewing hanteer sal word.
Moepya het beklemtoon dat demokrasie nie eindig wanneer ‘n stembrief in die stembus geplaas word nie. Kiesers het steeds ‘n verantwoordelikheid om hul verkose verteenwoordigers aanspreeklik te hou en by munisipale prosesse betrokke te bly.
Bronee: IEC, SAnews, SABC News