WES-KAAP. – ‘n Paar is Sondag omstreeks 17:45 beroof toe hulle op pad na hulle voertuig in Remskoenstraat in Wildernis was. Die verdagtes is gearresteer en het in die George-landdroshof verskyn.
Sers. Christopher Spies sê die paar is deur twee gewapende verdagtes genader en gedreig. Die verdagtes het die paar se motorvoertuigbande stukkend gesny voordat hulle met selfone en ‘n beursie in ‘n Toyota Yaris van die toneel gevlug het. George-misdaadvoorkomingslede en GPF-vrywilligers het Dinsdag inligting opgevolg waartydens ‘n huis in George deursoek en die gesteelde items gevind is.
“Die polisie het ook op twee nagemaakte vuurwapens en ‘n zip gun beslag gelê. Twee verdagtes, 23 en 38 jaar oud, is in verband met die vonds in hegtenis geneem.”
Die verdagtes het Donderdag op aanklagte van roof, diefstal uit ‘n motorvoertuig, die besit van gesteelde eiendom en besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen in die George-landdroshof voorgekom.
“Hulle is in aanhouding en die saak is vir ‘n formele borgtogaansoek tot 8 Oktober 2024 uitgestel.”





