Die padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) het ’n beroep op ouers en versorgers gedoen om te verseker dat kinders behoorlik in toepaslike veiligheidsitplekke vasgegordel is wanneer hulle passasiers in voertuie is.
Luidens ‘n verklaring van die RTMC word opgemerk dat talle kinders steeds onvasgegordel vervoer word, selfs in voertuie wat met goedgekeurde kindersitplekke toegerus is. Die korporasie het gesê dit is ’n wetlike vereiste dat babas en kinders onder drie jaar oud in ’n korrek geïnstalleerde motorsitplek vasgemaak moet wees.
Dit is ’n misdryf om ’n kind jonger as 14 jaar onvasgemaak in ’n voertuig met veiligheidsgordels te vervoer. Die RTMC het verder gewaarsku dat kinders, selfs al is hulle te lank vir ’n booster sitplek, altyd ’n veiligheidsgordel moet dra, ongeag waar hulle in die voertuig sit. Ouers is ook gemaan om kinders nie onbewaak in voertuie te laat nie en om los items veilig in die kattebak te bêre om beserings tydens ’n ongeluk te voorkom.
“Die verantwoordelikheid rus volledig op die volwassene of bestuurder om die veiligheid van alle kinders in die voertuig te verseker,” het die RTMC gesê. Bestuurders word verplig om voor elke rit te kontroleer dat kinder- of verhoogde sitplekke (booster) reg vas is en behoorlik funksioneer. Ouers moet verseker dat die bestuurder se aandag nie afgelei word deur ’n rustelose kind nie. Dit is veiliger om by ’n veilige rusplek stil te hou indien ’n kind aandag of ’n ruskans benodig,” het die RTMC gesê.
Druk hier om meer te lees.
Bron: SAnews.gov.za





