GEORGE, WES-KAAP. – ’n Perd is na bewering verlede Maandag helder oordag in die Thembalethu- informele nedersetting geslag. Die perd is glo die Sondag deur ’n taxi doodgery waarna die inwoners die polisie gevra het om nie die karkas te verwyder nie.
Die George Herald berig die ongeluk wat tot die perd se dood gelei het, is aanvanklik nie by die DBV aangemeld nie. Eers nadat inwoners die perd op die sypaadjie van Nelson Mandela-boulevard geslag het, is die voorval die volgende dag by die DBV aangemeld.
Salomé Bruyns, senior inspekteur van George-DBV, sê die oorsaak van die perd se dood is onbekend. Hulle het glo beeldmateriaal ontvang van die perd wat deur individue geslag en ontvel word.
Volgens George Herald het die slagting slegs 5 km vanaf die Thembalethu-polisiestasie plaasgevind. Ooggetuies het aangevoer die perd is glo vir menslike gebruik geslag.
Bronne: George Herald, Caxton, The Citizen





