Besoekers aan die Two Oceans-akwarium in Kaapstad kan tans een van Suid-Afrika se ontwykendste jelliespesies van naby beleef. ‘n Pienk meanie-jellievis (Drymonema sp.) word in die Jellie-galery aangehou, met ‘n klokdeursnee van 20 sentimeter en tentakels wat meer as drie meter lank strek.
“Hierdie merkwaardige individu het in die Jellie-galery floreer,” se akwaris Ayrton King. “Alhoewel hulle inheems aan Suid-Afrikaanse kuswaters is, word pienk meanies selde teegekom, wat dit ‘n besondere waarneming maak.”
Anders as baie jellievisse wat van plankton leef, is die pienk meanie jellivoor, wat beteken dit jag hoofsaaklik ander jelliespesies. Die gespesialiseerde dieet maak die spesie buitengewoon moeilik om in akwariums te versorg. Dit is die tweede jaar agtereenvolgens dat die akwarium so ‘n eksemplaar kan ten toon stel. In April 2025 is vyf pienk meanies vir die eerste keer saam vertoon, na akwariste ontdek het dat hulle mekaar nie opvreet nie, ondanks hul roofdiergedrag.
Persverklaring.





