MPUMALANGA. – Oudehout Kloof-plaas buite Volksrust is deur die hof deur ‘n bewaringsbevel aan die Valke en die nasionale vervolgingsgesag se batebeslagleggingseenheid toegeken. Die stap volg op die ontdekking van ’n geheime dwelmlaboratorium wat in September 2025 ontdek is, waarop vyf Mexikaanse burgers en ‘n Suid-Afrikaner in hegtenis geneem is.
Volgens Lt.kol. Magonseni Nkosi is die laboratorium deur ’n fluitjieblaser aan die lig gebring. Die Mbombela-hooggeregshof het ‘n bewaringsbevel van gedeelte 7 van die plaas van 2 878 722 hektaar, sowel as onder meer landbou‑ en huishoudelike toerusting, soos trekkers en ander voertuie, met 119 skape en al die toerusting vir dwelmvervaardiging, aan die staat toegeken. Die waarde van die items moet nog vasgestel word.
Borgtog is aan die Suid-Afrikaner toegestaan, terwyl die vyf Mexikaners steeds in aanhouding is. Die Valke waarsku dat hierdie bevel deel is van voortdurende pogings om dwelmsindikate in Mpumalanga stop te sit en die misdadige opbrengste aan die staat toe te ken.





