GAUTENG. – Die polisie het ‘n hoëvlak-ondersoek van stapel gestuur ná die poging tot moord op genl.maj. Feroz Khan, wat Sondagaand in 3de Laan in Houghton geskiet is. Khan sou op 1 Julie voor die Madlanga-kommissie getuig en op 14 Julie weer op aanklagte in die hof verskyn.
Brig. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, sê alhoewel Khan voor die Madlanga-kommissie moet getuig, dit in hierdie stadium voortydig en onverantwoordelik om die aanval met sy verskyning te verbind. Sy sê speurders sal die ondersoek volgens die beskikbare bewyse voer en enige motief eers bepaal wanneer die feite dit regverdig.
Die ondersoek word deur die Gautengse Valke, Gauteng-misdaadintelligensie en die polisie se speurdiens gelei, terwyl die taakspan vir politieke moorde ook by die ondersoek ingesluit is om alle moontlike leidrade op te volg. Die polisie sê enige poging om mense wat by regtelike prosesse betrokke is te intimideer, stil te maak of aan te val, word in ‘n uiters ernstige lig beskou. Die polisiediens waarsku dat enige inmenging met die regsproses of die werk van die kommissie streng volgens die wet hanteer sal word.
Die waarnemende nasionale polisiekommissaris, lt.genl. Puleng Dimpane, het die aanval veroordeel en gesê alle beskikbare hulpbronne sal aangewend word om die aanvallers op te spoor en in hegtenis te neem. Sy het Khan ook ‘n spoedige herstel toegewens.
Nuusflits het op 11 Mei berig dat Khan saam met genl.maj. Ebrahim Ahmed Kadwa, Gauteng se provinsiale Valke-hoof en sakeman Tariq Downes in die Kempton Park-landdroshof verskyn het op aanklagte wat verband hou met edelmetale en regsverydeling. Die saak spruit uit ‘n voorval in Mei 2021 by die OR Tambo Internasionale Lughawe, waar Downes glo met sowat 76 gram onverwerkte goud ter waarde van meer as R62 000 aangekeer is. Die drie beskuldigdes is elk op borgtog van R20 000 vrygelaat en die saak is tot 14 Julie uitgestel.





